‘n Proefprojek van die werksoek-eenheid, bekend as die Skarrelhuis, is Maandag, 3 Oktober 2023, amptelik in Groot-Brakriver deur die burgemeester van die Mosselbaai Munisipaliteit, raadsheer Dirk Kotzé, geopen.

Volgens raadsheer Kotzé, glo hy dat die projek ‘n sukses gaan wees, omdat verskeie gemeenskap-organisasies en inwoners van Groot-Brakrivier betrokke was om die projek van die grond af te kry en die Skarrelhuis gereed te kry.

Raadslid, Annetjie Janse van Rensburg van Wyk 4, Herman Swanepoel, ‘n komiteelid van Wyk 4, Ronald Hacquebord, voorsitter van die Groot-Brakrivier Belastingbetalersvereniging en die Rotariër-klub het die inisiatief geneem om die Skarrelhuis ‘n werklikheid te maak.

Hacquebord beskryf dié proefprojek as ‘n oplossing vir ‘n probleem wat al maande lank ongelukkigheid onder inwoners veroorsaak het.

Swanepoel, wat ook die waarnemende voorsitter van die Groot-Brakrivier Besigheidsforum is, verduidelik dat werksoekers op die hoek van Lang-strate en Sandhoogte-strate bymekaar gekom het om opgelaai te word vir werk, maar dat dit ‘n baie onveilige situasie geraak het.

“Daar is nie skuiling, ablusieblokke of veilige parkering vir mense wat die werkers wou oplaai nie.”

Die skarrelhuis-projek bied ‘n oplossing deurdat ‘n persoon aangestel is om ‘n databasis van werksoekers op te stel, mense kan inbel om te hoor van werk en werkers kan veilig op- en afgelaai word.

Swanepoel sê dat die proefprojek net suksesvol kan wees as almal saamwerk. Raadslid Janse van Rensburg het die kunstenaars en inwoners bedank wat die Skarrelhuis versier het en betyds gereed gekry het vir die amptelike opening vanoggend.

Die Skarrelhuis se nommer wat van 4 Oktober in werking sal wees, is (071 537 8317).  – Mosselbaai Advertiser