Die Skarrelhuis-werkskeppings-projek is op 3 Oktober verlede jaar in Groot-Brakrivier geloods om werknemers en werkgewers by mekaar uit te bring en ‘n databasis van werkers en hul bekwaamhede op te bou.
Werkverskaffers en besighede kan sedertdien die Skarrelhuis kontak vir werkers en ‘n persoon met die regte vaardighede daar gaan oplaai.
Meer as 500 werksoekers en 378 werkverskaffers is reeds op die databasis geregistreer.
Die Skarrelhuis-projek is ‘n gemeenskapsinisiatief wat begin is nadat probleme ervaar is met werksoekers wat op die hoek van Langstraat en die Sandhoogtepad gestaan en wag het.
Dié werkers moes dikwels in die wind en reën staan sonder ablusiegeriewe, terwyl voertuie wat daar gestop het om werkers op te laai, soms verkeersprobleme veroorsaak het.
Dit is deur wyksraadslid Annatjie Janse van Rensburg geïnisieer, maar is tans gemeenskapsgedrewe en -befonds.” “Ons as munisipaliteit is baie trots en dankbaar vir die aktiewe gemeenskap in Groot-Brakrivier.”
Raadslid Annatjie Janse van Rensburg vertel: “Die werksoekers was aanvanklik sku om by die Skarrelhuis aan te klop, maar ons benadering is een van omgee en meelewing met hulle behoeftes. Die Skarrelhuis speel ‘n bemiddelende en fasiliterende rol wat werknemers en werksoekers ten beste probeer dien. Die projek gee tans baie hoop en word elders in die provinsie ook raakgesien as ‘n moontlike “beste praktyk”.
Ronald Hacquebord, die voorsitter van die Belastingbetalersvereniging sê dat die inwoners graag die Groot-Brak omgewing ‘n mooi en lekker plek wil maak vir mense om te besoek. “Die Skarrelhuis is ‘n baie suksesvolle toevoeging tot die dorp. Hier kom al hoe meer jongmense na die dorp en ons moet in pas bly met die vooruitgang wat dit tot gevolg het.”
Volgens die nuwe bestuurder van die Skarrelhuis, Sonja Pelser is hul soggens baie besig tussen 07:00 en 09:00. Ongeveer 20 werkers ‘n dag word opgelaai. Konstruksie-maatskappy en ander besighede in die boubedryf neem ‘n paar werkers ‘n dag en sal vooraf reëlings tref. “Ons stel ‘n profiel van elke werker op en teken elke werksbesoek en verwysing aan.” Daar was aan die begin baie groeipyne, maar dinge is nou meer georden.
“Ons grootste uitdaging is werkgewers wat net stop en mense wil oplaai. Hulle moet asseblief registreer en vooraf reël en sê wat hulle behoefte is.”
Die Skarrelhuis se kontaknommer is 071 537 8317.
